Dis drie-uur in die oggend toe Buurman se vark my wakker maak. Die effen vark is weer in my vullisdrom. Soos dit ’n goeie boer betaam, is daar honde op my erf. Daar is niks so erg soos ’n histeriese windhondteef se geblaf in die middel van die nag nie.
Ek voeter byna uit die bed.
Ek bel terstond my buurman. “jou effen vark is weer op my erf.”
Die windhonde is van nature lafaards, dus hol hulle eers weg van die geraas af weg, boem! Teen die staaldeur tussen die motorhuise en die gang na my slaapkamer vas, tjank en blaf gelyk, besef dan dat hulle eintlik veronderstel is om waghonde te wees en kry dan met ’n geraas wat die voorvaders in die plaaskerkhof wek, die regte rigting.
Ek raak bekommerd oor my hond. Waarskynlik gaan hy ’n helse geveg met Buurman se vark aanknoop.
Die Buurman se varke is maer en loop los rond. Die sogenaamde vry boerdery met varke werk nie vir my goed nie.
Hulle is so hongererig, hulle kom vreet my Honde se kos op, breek my varkhokke se hekke oop en vreet die varkkos, stamp my stoordeur oop en plunder my voorraad. Waspoeier en mieliemeel maak ’n nuttelose kombinasie, jy kan nie was nie, nie kook nie en ook vir geen dier voer nie.
Bron: http://woes.co.za
